|
Doelstellings
Die Stilbaai Sakekamer is 'n organisasie wat gestig is om die sakebelange van die lede, en die van die gemeenskap te bevorder. Die algemene doel is om die vooruitgang van Stilbaai en omgewing te bevorder, deur toerisme te bemark, die ondersteuning van vakansiegangers te werf, en die plaaslike sakegemeenskap en die van die omgewing, te ondersteun. Dit is ook 'n doelstelling van die Sakekamer om die welsyn en vooruitgang van Melkhoutfontein, wat hoofsaaklik bestaan uit minderbevoorregtes, te bevorder.
Geskiedenis
Die dorp bestaan gedeeltelik uit permanente inwoners, asook huiseienaars wat slegs daar kom vakansie hou, hoofsaaklik oor die Desember/Januarie tydperk, Paastydperk, en in 'n mindere mate, tydens die ander skool-vakansies. Die geskatte inwonertal is tussen 5 000 en 6 000 mense. Die hoogste aantal besoekers tussen Kersfees en Nuwe Jaar, word geskat op sowat 45 000, wat natuurlik baie beteken vir die sake-gemeenskap
Die Stilbaai Sakekamer is gestig ongeveer einde 1984, begin 1985, onder die stigterslede was (oorlede) Mnr "Smiley" Cronje, Mnr Gus Von Molendorf, Kobus Cronje en Hennie Rossouw. Die doel van die sakekamer toe, was dieselfde as wat dit vandag is, en die grondwet het dit ook so gestel. Oor die jare, het die sakekamer altyd gestreef om die belange van die gemeenskap en die sakegemeenskap te bevorder, en te verdedig, en dit sal steeds die doel wees in die toekoms.
Die Sakekamer bestaan tans uit sowat 85 lede/besighede, en uit hulle geledere word daar jaarliks 'n bestuurskomitee verkies. Die komitee vergader op 'n maandelikse grondslag, waar sake wat die gemeenskap en besighede raak, bespreek word. Daar word gepoog om probleme op te los, veral waar die plaaslike owerheid en die sakegemeenskap betrokke is. Dikwels word daar direk met die bestuur van die plaaslike owerheid byeengekom, om probleme wat opduik, te bespreek en op te los.
Projekte word van tyd tot tyd aangeneem om besigheid, ontwikkeling, toerisme, of welsyn te bevorder. So is die jaarlikse "Touch Rugby" of "Touchies", al 'n instelling op Stilbaai vir die 30ste opeenvolgende jaar, en dit bly steeds die grootste byeenkoms van sy soort, wat duisende besoekers en deelnemers elke jaar op 26 Desember lok. Ons verwag weer 'n groot opkoms vir vanjaar se Touchies. Sien asseblief die bladsy oor die Touchies Toernooi
Verskeie ander projekte is ook oor die jare aangepak wat die welsyn van veral die Melkhoutkruin gemeenskap bevorder het. Daar is, byvoorbeeld 'n groot behoefte aan ontspannings- en vermaaklikheidsgeriewe, veral vir die jeug van Melkhoutfontein, en dit is een van die projekte wat nou en in die toekoms, aandag sal geniet. Gemeenskaps-organisasies Indien u met een van die gemeenskaps-organisasies in verbinding wil tree, kan u gerus op die volgende skakel kliek: www.stilbaai-belangeforum.co.za
Last Updated ( Monday, 20 December 2010 10:21 )
|