Stilbaai Sakekamer - U deurgang na besigheid in Stilbaai
Welkom by die Stilbaai Sakekamer Webtuiste
Written by Stilbaai Webmeester   
Friday, 07 November 2008 09:16
PDF Print E-mail

Doelstellings

Die Stilbaai Sakekamer is 'n organisasie wat gestig is om die sakebelange van die lede, en die van die gemeenskap te bevorder. Die algemene doel is om die vooruitgang van Stilbaai en omgewing te bevorder, deur toerisme  te bemark, die ondersteuning van vakansiegangers te werf, en die plaaslike sakegemeenskap en die van die omgewing, te ondersteun.   Dit is ook 'n doelstelling van die Sakekamer om die welsyn en vooruitgang van Melkhoutfontein, wat hoofsaaklik bestaan uit minderbevoorregtes, te bevorder.

 

alt

Geskiedenis

Die dorp bestaan gedeeltelik uit permanente inwoners, asook huiseienaars wat slegs hier kom vakansie hou, hoofsaaklik oor die Desember/Januarie tydperk, Paastydperk, en in 'n mindere mate, tydens die ander skool-vakansies. Die geskatte inwonertal is tussen 5 000 en 6 000 mense.  Die hoogste aantal besoekers is tussen Kersfees en Nuwe Jaar, wat al soveel as 45 000 was, en wat natuurlik van geweldige groot betekenis vir die sake-gemeenskap is.

Die Stilbaai Sakekamer is gestig ongeveer einde 1984, begin 1985, onder die stigterslede was (oorlede) Mnr "Smiley" Cronje, Mnr Gus Von Molendorf, Kobus Cronje en Hennie Rossouw. Die doel van die sakekamer toe, was dieselfde as wat dit vandag is, en die grondwet het dit ook so gestel. Oor die jare, het die sakekamer altyd gestreef om die belange van die gemeenskap en die sakegemeenskap te bevorder, en te verdedig, en dit sal steeds die doel wees in die toekoms.

Die Sakekamer bestaan tans uit sowat 80 lede/besighede, en uit hulle geledere word daar jaarliks 'n bestuurskomitee verkies. Die komitee vergader op 'n maandelikse grondslag, waar sake wat die gemeenskap en besighede raak, bespreek word. Daar word gepoog om probleme op te los, veral waar die plaaslike owerheid en die sakegemeenskap betrokke is. Dikwels word daar direk met die bestuur van die plaaslike owerheid byeengekom, om probleme wat opduik, te bespreek en op te los.

Projekte word van tyd tot tyd aangeneem om besigheid, ontwikkeling, toerisme, of welsyn te bevorder. So is die jaarlikse "Touch Rugby" of "Touchies", al 'n instelling op Stilbaai vir meer as 30 jaar, en dit bly steeds die grootste byeenkoms van sy soort, wat duisende besoekers en deelnemers elke jaar op 26 Desember lok. Die Trans-Agulhas bootresies is ook 'n groot byeenkoms wat honderde toeskouers lok, en Stilbaai is een van die oornag stilhouplekke op die roete.

Verskeie ander projekte is ook oor die jare aangepak wat die welsyn van veral die Melkhoutkruin gemeenskap bevorder het. Daar is, byvoorbeeld 'n groot behoefte aan ontspannings- en vermaaklikheidsgeriewe, veral vir die jeug van Melkhoutfontein, en dit is een van die projekte wat nou en in die toekoms, aandag sal geniet.

Last Updated ( Friday, 04 May 2012 10:01 )